Annamarie Maritz

Kinders en Geloofsverdediging

Annamarie Maritz | 11 November 2021 | 7 min lees

Kinders en Geloofsverdediging

Op 50-jarige ouderdom[1] het ek een wintersaand geluister hoe ’n professor voor ‘n groot skare op ‘n universiteitskampus verduidelik dat daar nie ’n God is nie. Ek was verbaas toe ek sien dat almal om my, meestal jong mense, doodluiters daar sit en luister, totaal ongesteurd.

Dit was die eerste keer dat ek bewus geword het van die woord apologetiek.[2] Die woord is so vreemd op die oor dat ek dit steeds versigtig uitspreek. Dit het tyd geneem om regtig te verstaan wat die woord beteken en nog langer om die “taal” van hierdie veld op ’n baie gebroke manier te leer praat.

My sterkste gewaarwording met meer blootstelling aan apologetiek was hoe swak ek toegerus is om dit wat ek glo te verwoord en te verdedig as die waarheid. Daarom deel ek as ouer graag die volgende gedagtes.

Christen-ouers hou daarvan om hulself as die primêre opvoeders van hul kinders te beskou. Dit sluit sekerlik die verantwoordelikheid om ons kinders Christelik groot te maak, in. Dat hiérdie belangrike taak nie primêr in die hande van die skool of kerk lê nie, was nog nooit so belangrik om te besef soos in ons huidige tydvak nie.

Die statistiek wil ’n mens amper laat voel dat ’n lewe in afsondering die heel beste en veiligste lewenstyl vir jong Christene is, bloot net omdat die betekenis van Christen-wees so drasties verander het in die afgelope twee dekades. En die voorspelling is dat dié tendens net gaan groei!

In Amerika het 85% van kinders in openbare skole nie meer ’n Bybelse wêreldbeskouing nie. 63% van Amerikaanse tieners glo nie dat Jesus die Seun van God is nie, 58% glo dat alle godsdienste die waarheid verkondig, en 51% glo dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie. Tot en met 88% van studente wat as Christene inskryf by universiteite, verlaat die universiteit as ateïste. 38% van ateïste is nou tussen 18 en 29 jaar oud – reg om ander jongmense te beïnvloed deur sosiale media en ander platvorms wat tot hulle beskikking is.[3]

Hoe lyk die statistiek in Suid-Afrika? Die nuutste syfers (2015) dui aan dat 86% van Suid-Afrikaners hulself assosieer met die Christelike geloof, maar dat net die helfte hiervan hul geloof uitleef deur openbare betrokkenheid by Christelike aktiwiteite. Weer ’n kwart hiervan woon net ’n paar keer in ’n jaar enige Christelike aktiwiteite by.

In 1980 al, het ’n studie onder 8000 tieners getoon dat God, die Bybel en geloofsonderwerpe slegs in 10% van ouerhuise bespreek word en dat in 43% van ouerhuise daar nooit oor geloof gepraat is nie. 56% van daardie tieners het aangedui dat hul nooit met hul pa oor geloof gepraat het nie en 35% het aangedui dat hulle selde met hul ma oor geloof gepraat het.[4]  

Verder kom dit voor asof ’n algemeen aanvaarbare leefstyl en sogenaamde sosiale ordentlikheid verwar word met Christelike oortuigings en waardes. Om een of ander rede dink baie hedendaagse Christene ons moet kies tussen die waarheid en die liefde asof ons nie beide tegelykertyd kan hê nie. Kulturele en sosiale invloede speel ’n al hoe groter rol in Bybelse beskouings, soveel so dat die terme, “kulturele Christene,” “naam-Christene” of “Christen Ateïste,” al meer gebruik en aanvaar word.

Ons kan vir seker vasval in al die verdoemende feite! Die punt is – as ouers is ons vasgevang in ons eie generasie se lewensvrae, en ’n volgende generasie se uitdagings is baie keer aan ons onbekend! Maar, as Christen-ouers kennis daarvan neem dat hul kinders met nuwe lewensuitdagings en -vrae gaan grootword, kan die bogenoemde feite ons help om ons kinders pro-aktief op te voed.  

Geloofsontwikkeling en -Verdediging begin in die Ouerhuis

“If your children are smart, they will ask proof, unless you have already brainwashed them to the point they won’t DARE ask…”[5]

Hierdie aanklag van ateïste, impliseer dat Christen-ouers hul kinders dikwels die geleentheid ontneem om self te kan dink en logies te kan redeneer. Dit beklemtoon die verantwoordelikheid van Christen-ouers om hul kinders te begelei om vrymoedig te mag “vra” sodat ouers met wysheid kan antwoord!

“Ons hoef net te glo soos ’n kind” is dikwels die verskoning wat ons as Christene gebruik om onsself uit dié verantwoordelikheid te wurm. Die kosbare, opregtheid van ’n kinderlike geloof sal altyd spesiaal bly. Maar, soos ouers weet, vra kinders aanhoudend vrae en wag ongeduldig op antwoorde. So maak hul sin van die realiteit soos dit is. Indien hulle vrae oor die langduur goed beantwoord word, kan hul onvermydelike konfrontasie met realiteit vir hulle ’n leerskool word in die kennis van God. Wanneer hierdie ingebore behoefte by kinders gesmoor word deur ongeduld en afwysing van volwasse Christene, speel ons presies in die hande van sekularisme. Ons kinders waag dit dan nie meer om vrae te vra nie, bly onseker oor antwoorde en is kwesbaar omdat hul twyfel.

Die ouerhuis is die plek waar geloofsontwikkeling ontkiem wanneer ouers Christelike waardes voorleef, waar geloof begin groei wanneer kinders dit begin saamleef, en waar geloofsverdediging se fondament gelê word sodat kinders dit kan begin selfleef in die wêreld. Deuteronomium 6:7 bevestig dié riglyn: “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.”

Het ons as ouers die feite (kennis) en vaardighede onder die knie om met selfvertroue en in liefde in gesprek te kan tree met ateïste, skeptici, of kultuslidmate? Of kan ons net spontaan en ingelig gesels oor rugby, Covid, die bure of ’n onderwyser?

Het ons die antwoorde op die moderne vrae rondom Christenskap, of glo ons steeds daar is sekere onderwerpe wat taboe is? Ouers, en hul kinders, word gebombardeer met kontroversiële onderwerpe soos:

  • Wat is LGBTQI+? Wat is die Christelike perspektief? Waarom is dit die Christen se perspektief?
  • Wat is waarheid? Is dit relatief? Beteken dit Christene moet almal se “waarheid” akkommodeer?
  • Is daar ’n God? Hoe weet ek dit? Kan ek dit bewys sonder om die Bybel as bron te gebruik?
  • Kan ons bewys Jesus het opgestaan uit die dood? Hoe doen ons dit?
  • Is alle godsdienste nie net verskillende paaie wat na dieselfde hemel lei nie? Hoekom nie?
  • Is die Bybel nie maar net ’n primitiewe ou boek met geen waarde vir vandag nie?

Hierdie onderwerpe gaan nie verdwyn wanneer ons dit ignoreer nie en ons mag nie meer so naïef wees om te dink ons kinders gaan vrae hieroor vryspring nie!

Die logiese gevolgtrekking is dus dat ouers die dilemmas van die generasie waarin hul kinders grootword, moet verstaan, self moet begin vrae vra, die antwoorde moet leer ken en die “moeilike” onderwerpe openlik moet uitpak om waardebepalings volgens Christelike oortuigings vir hul kinders te leer.

Kennis van Ontwikkelingsfases

“Debating with a Christian is impossible. They rely on ‘faith and fantasy’ where an atheist relies on evidence, facts and rational thoughts.”[6]

Sonder om te verdwaal in die fyn detail van die hope navorsing wat beskikbaar is oor die kenmerke van ontwikkelingsfases by kinders, kan kennis hiervan ’n gerieflike hulpmiddel wees om breedweg aan te dui wanneer kinders ryp en gereed is vir sekere kognitiewe, fisiese, sosiale en emosionele uitdagings.

Om akademiese en sportdoelwitte te hê, is redelik algemeen deel van ’n moderne huisgesin se leefstyl. Gewoonlik pas hierdie doelwitte en aktiwiteite min of meer in ’n spesifieke ontwikkelingsfase. Maar om die een of ander rede klink “geloofsontwikkelingsdoelwitte” eenvoudig verregaande!

Om geloofskennis en -vaardighede oor te dra aan ons kinders op die vlak van hul ontwikkelingspotensiaal, maak dit moontlik om kinders gedurig uit te daag na hoër denk- en kennisvlakke. Voordat ons kinders ons huise verlaat, moet hulle kan getuig dat hulle glo, hulle moet kan verduidelik wat hulle glo, en hulle moet ingelig en logies kan redeneer oor hoekom hulle kan glo.  Hulle moet dus gewapen wees met ’n goeie fondament van Bybelkennis, hulle moet in liefde en dankbaarheid hul geloofsekerheid kan uitbasuin, en hul moet vertroud wees met die ware feite, en gesprek kan voer oor historiese, filosofiese en wetenskaplike bewysstukke wat getuig van die waarheid waarin ons glo.

Verder nog is dit belangrik om ook te besef dat logiese denke van groot waarde is in die kognitiewe ontwikkeling van ons kinders. Kinders kan op jong ouderdom al gekonfronteer word met logiese denkvaardighede. Ons kan nie wegkom van die waarheid dat ons God lief moet hê met ons hele hart, ons hele verstand en al ons kragte nie. Iets soos logika klasse is daarom altyd ‘n goeie belegging in ons kinders se ontwikkeling. Ons Christelike geloof is sekerlik baie meer as net logika en rede, maar dit is ook niks minder as logika en rede nie.

Die gevolgtrekking is dus – ons moet geloofsgesprekke stimuleer binne die denkvlakke en ontwikkelingsfases van die kind. Ons moenie kinders onderskat nie! Ons kan hul voorberei om soos die ingeligte ateïs, feite, logiese denke en historiese kennis te gebruik. Die groot verskil is net, dat hul dit sal gebruik om ongelowiges na die ware geloof toe te wys.

Afsondering is nie die Antwoord nie

“A lack of robust spiritual training has resulted in a featherweight faith for many of today’s young adults, and that faith is being blown away by attacks from our secular culture.”[7]

Opvoeding is ’n stadige en verantwoordelike loslating van ons kinders in ’n samelewing! Dit laat Christen-ouers onseker voel, en met goeie rede! Een skrywer herinner ons egter aan die fundamentele waarheid:

“Good parenting, which does what God intends it to do, begins with this radical and humbling recognition that our children don’t actually belong to us. Rather, every child in every home, everywhere on the globe, belongs to the One who created him or her.”[8]

Die samelewing het ongelukkig die afgelope dekades vrede gemaak met die gemengde boodskappe oor God, moraliteit, die waarheid en geloof. En dit word op sosiale media uitbasuin. “Reg en verkeerd, waar en vals” is nou bloot net grys begrippe.

Die gevolg hiervan is dat daar ’n nuwe “sendingveld” ontstaan het. Die sendingveld bestaan egter nie uit mense wat nog nooit van God gehoor het nie, maar uit mense wat die Bybel goed ken, wetenskaplike standpunte gebruik om die Christelike geloof te weerlê, ure spandeer om met logiese redenasies te probeer bewys dat God nie bestaan nie, en wat bereid is om hul idees wyd en syd te verkondig. En die feit is dat ons kinders binne-in hiérdie sendingveld leef!

Ons kinders kan nie weggesteek leef nie. Daarom is die enigste oplossing om hul voor te berei vir hierdie wêreld. Dit is eenvoudig nie goed genoeg om hul eenkeer ’n week kerk toe te neem, hul geloofsontwikkeling in die hande van ’n onderwyser te laat, of om bloot onkundig te bly nie.

In hierdie sendingveldwêreld kan ons kinders vandag nie net meer weet wat hul glo nie, maar ook hoekom hul glo. En dit bring ’n nuwe dimensie in geloofsopvoeding mee! Dit verg ’n liefdevolle, rasionele en logiese aanslag om te getuig van ons “vaste vertroue,” vervleg met “gewisse kennis” van dit wat ons glo, binne ’n nuwe wêreld wat bewyse vra van hoekom ons glo! 

Geloofsverdediging, kortom, apologetiek – is ouers se beste wapen!

Slotgedagtes

Die idee om in die wêreld te wees maar nie van die wêreld nie[9] beteken nie om ’n “heilige” en veilige wegkruipplek vir ons kinders te skep omdat ons en hulle bang is nie, maar eerder om hul versigtig en voorbereid as dissipels[10] die wêreld in te stuur. Dit beteken dat ons kinders sosiaal geïntegreer moet kan leef, emosioneel intelligent moet kan optree, intellektueel die ateïs, kultusleier en skeptici se standpunte moet ken en dit met liefde kan antwoord. Hul moet selfversekerd kan wees oor wat en hoekom hulle glo sonder om arrogant of meerderwaardig te wees. Hul moet kan luister na die wêreld se vrae oor ons geloof en weet waar om antwoorde te soek. En ons kinders moet vir seker weet dat hul veilig is in hul ouerhuis en in die holte van ons Here se hand!

Daarom, kom ons span almal in – oupas en oumas ook – om ’n belegging te maak in ons kinders se geloofsveiligheid:

  • Verdiep gedurig in jou eie geloof! Bid!
  • Skep ’n geestelike ruimte in die huis sodat daaglikse gesprekke oop en vrymoedig kan plaasvind.
  • Bestudeer die Bybel saam met jou kinders.
  • Vra pro-aktief die moeilike vrae aan jou kinders wat hulle nie aan jou vra nie.
  • Leer hulle om realiteit te ondersoek en die regte vrae te vra.
  • Luister na en monitor jou kind, maak seker jy verstaan hoekom en wat hul dink en voel.
  • Onderrig hulle in kritiese en logiese denkvaardighede.
  • Leer hulle om op die regte plekke antwoorde te soek, verál wanneer dit by  die internet en sosiale media kom.
  • Leer jou kinders om Christelike geloofswaardes te kan vergelyk met ander godsdienste en wêreldbeskouings en met begrip daaroor te kan gesels.

Die menings en idees in hierdie artikel is dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig die oortuigings van die werknemers en lede van Ratio Christi Suid Afrika nie.


[1] Ek is nie ’n apologeet of opvoedkundige nie. Ek is bloot ’n ma wat terugkyk en besef dat daar baie misgeloopte geleenthede was terwyl ek besig was om my kinders op te voed. Ek besef ook nou eers hoe ons onsself toevou tussen wonderlike, gelowige vriende in ’n “veilige” omgewing, maar ons jong kinders uitstuur in ’n wêreld in wat “oopbek” vir hul lê en wag.

[2] Apologetiek kom van die Griekse woord apologia (ἀπολογία) af. Dit beteken om ’n rasionele verdediging vir jou spesifieke saak te gee. Dit wil sê, om goeie redes te gee hoekom die saak waarvoor jy staan waar is. In ’n Christelike konteks sal dit wees, in die woorde van Petrus, om jouself te “verantwoord” teenoor diegene wat “rekenskap eis” oor die hoop wat in jou lewe (1 Petrus 3:15). Wanneer Paulus as ’n gevangene voor Agrippa en Festus verskyn, en beskuldig word dat hy “waansinnig” is omdat hy glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, antwoord hy: “Ek is nie waansinnig nie…, maar wat ek sê spreek van waarheid en gesonde oordeel” (Handelinge 26:25). Paulus is besig om vir hulle die waarheid te verkondig op ’n oorredende en weldeurdagte manier. Ons lees ook in Judas 3 dat ons moet “stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is.” Christene word hier aangemoedig om vir die waarheid van die Christelike geloof op te staan en daarvan te getuig op ’n rasionele vlak. In kort is die taak van apologetiek dus nie bloot net om te sê wat jy as Christen glo nie, maar ook hoekom jy dit glo. En, in watter konteks ons hierdie taak ookal moet doen, skryf Petrus dat ons dit altyd met “beskeidenheid en respek” moet aanpak (1 Petrus 3:16).

[3] Jonker G. Venter,Geloofsvorming en die Vermoë om Geloof te Verdedig by Kinders onder Sewe Jaar as Korrektief op Nominale Christendom (Verhandeling voltooi by die NWU, 2020), 8.

Natasha Crain, Keeping Your Kids on God’s Side: 40 Conversations to Help them Build a Lasting Faith (Eugene: Harvest House Publishers, 2016), 12.

[4] Venter, Geloofsvorming en die Vermoë om Geloof te Verdedig, p. 8.

[5] Crain, Keeping Your Kids on God’s Side, p. 10.

[6] Ibid.

[7] Ibid., p. 12.

[8] Paul D. Tripp, Parenting: 14 Gospel principles that can Radically Change your Family (Crossway Illinois 2016), 14.

[9] Sien Johannes 8:22-24; 15:19; 17:11, 14-15; 1 Johannes 2:15-17; 4:5.

[10] Sien Matteus 28:16-20.

JOIN OUR MAILING LIST

SUBSCRIBE TO OUR MAILING LIST

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!